Alles het in plek geval…

Ma, ek wil huis toe kom… Maar Ma het altyd geweet ek sê eintlik…

Ma, ek huil my elke aand skelm in my kussing aan die slaap, ek kry swaar in hierdie skoolkoshuis.
Ma, ek sukkel om aan te pas hier in die groot stad, alles werk vreemd, anders hier.
Ma, ek en my varsity-kys het weer baklei, en die keer dink ek dit is finaal uit.
Ma, ek het gedink ek gaan met hom trou, maar nou lyk dit nie meer so nie.
Ma, die dokter sê ek kan nie kinders hê nie, hoe leef ek hiermee saam?
Ma, sy kanker is terug, ek is bang.
Ma, my man is dood, ek weet nie meer verder nie.

Want Pa het immers altyd gesê, my kind, maak nie saak wat gebeur het nie, jy kan altyd huis toe kom.

Huis… my skuilplek… my heel-word-plek. Die plek waar ek met vrymoedigheid my hart kon uithuil – oor grootword, mislukte verhoudings, teleurstellings en dood. Die plek waar ek die swaar van my bors kon afkry, my tenkie weer kon volmaak, my ken kon oplig en die lewe weer in die oë staar.

Vandag groet ek `n finaal my grootword-huis. Die plek wat ek vir amper 40 jaar, huis genoem het. En soos ek gereeld in die laaste tyd vir Pa en Ma gesê het, as die tyd reg is, val alles skielik net in plek, weet ek dat alles vir my ook in plek geval het, en ek inderdaad maar my skuilplek kan groet.

Vir almal wat trauma ken…

Vandag is Internasionale Trauma-dag. En gister was `n onthou-dag.

Die twee is nie goed saam nie, want trauma kom steel jou onthou-dae, kom slaan sy donker kloue in goeie lag-herinneringe in. Om jouself te beskerm, het jy al geleer om die onthou-oomblikke kort en gefokus te hou. Net `n bietjie op `n slag, en net oor iets spesifieks.  Sodat jou gedagtes nie te ver ronddwaal en jy opeindig in daai oggend… in daai kamer, in daai oomblik nie.

Onthou-dae is egter moeiliker, want kort-kort duik die datum op, en herinneringe in die een of ander vorm. En later kan jy dit nie meer keer nie, en dwaal jou gedagtes tog… En nie in die goeie onthou rond nie, maar sommer reguit na die seer-een, die bangmaak-een. Die een wat die vrees van daardie dag teen jou bors laat opkruip en jou aan jou keel kom gryp, sodat dit voel of jy nie asem kry nie.

My wens daarom vandag vir almal wat trauma te goed ken, mag jou trauma se donker wolk tog eendag oor die onthou-dae lig, sodat jy gemaklik kan asemhaal en jou gedagtes vrylik kan laat ronddwaal in nie net jou onthou-oomblikke nie, maar ook jou onthou-dae.

Seën vir Lily

Ek het gedink ek het jare lank gesmag na `n babatjie. Maar daardie oggend in die hospitaal, toe ek die eerste keer in jou gesiggie kyk, het ek besef ek het nie. Ek het nie gesmag na `N babatjie nie, ek het gesmag na jóú! Na jou spesifiek, Lily. En toe ek die eerste keer jou warm mondjie soekend teen my lyf voel, en besef hoe afhanklik jy van my is, het ek stilweg `n belofte gemaak aan jou. Ek het belowe dat ek die beste Mamma vir jou sal wees wat ek moontlik kan wees. En daaruit is die belangrikste drie dinge wat ek vir jou wil leer:

Om, soos Mamma, lief te wees vir die lewe – die lewe is nie altyd lekker nie, maar ek gaan jou leer om die lekker tye te geniet en net vas te byt in die slegte tye, want dit gaan altyd verby.
Om, soos Mamma, lief te wees vir mense – alle mense is nie goeie mense nie, maar ek sal jou leer om jou te omring met die goeies.
Om, soos Mamma, te bid en te glo – Lily, jy is die grootste wonderwerk in my lewe en daarom kan ek getuig dat God altyd `n plan het met ons lewe, al lyk dit glad nie vir ons so nie.

Want jy en jou Pappa is die bewys in my lewe dat: Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles.

Hallo Pa

Ek onthou `n Pa wat my leer bid het, op my knieë langs hom op die bed.
Ek onthou `n Pa se stem duidelik bo die ander op die paviljoen, selfs al hardloop ek heel aan die anderkant van die baan.
Ek onthou `n Pa wat al om die uur met `n hand vol bederfies kom aankondig het, ”pouse”, terwyl ek leer vir die matriek-eksamen.
Ek onthou `n Pa wat sterk langs my staan en my styf vashou terwyl my lewe ineenstort langs `n kis.
Ek onthou `n Pa wie se trane, net soos myne, vrylik oor sy wange vloei toe ek uiteindelik my wonderwerkie in my arms hou.
So onthou ek my Pa.

Ek sien `n Pappa wie se oë vol trane raak toe hy hoor van jou koms.
Ek sien `n Pappa wat bars van trots en blom van vreugde toe hy jou die eerste keer in sy arms hou.
Ek sien `n Pappa wie se oë vol trane skiet en jou styf in sy arms toevou as jy hartverskeurend huil ná jou inentings.
Ek sien `n Pappa wat jou op sy skoot sit-maak en liedjies sing, gesigte trek en lang stukke gesels tot jy kraai van plesier.
Ek sien `n Pappa se babadogtertjie wat, al sien sy hom nog nie eers nie, dadelik begin glimlag as sy haar pappa hoor groet, “Hallo Pa”.
So sien ek my liefie-kind se Pappa.

 

Om jou mamma te wees…

Hoe voel dit om `n mamma te wees, wil almal by my weet. En ek verstaan nie hoekom ek so stotter en val oor my woorde as ek probeer antwoord nie! Dit is tog wat ek vir so lank met my hele hart wou hê – om `n mamma te wees. So, ek behoort die vraag tog maklik, spontaan te kan antwoord.

Toe ek rustig gaan sit en dink daaroor, kom die oomblik toe die suster jou in my arms kom sit het, dadelik by my op. Die trane het vrylik oor my wange begin stroom toe ek jou sagte lyfie in my arms hou, jou warm asempie in my nek voel en na jou gekreukelde gesiggie staar. Tyd het skielik gaan stilstaan. En nou verstaan ek, die vraag moenie wees, hoe voel dit om `n mamma te wees nie. Die vraag moet wees, hoe voel dit om jóú mamma te wees – Lily se mamma.

Maar steeds bly die woorde min, want…
Hoe verduidelik ek dat as jy net `n bietjie lank slaap, ek so na jou verlang dat ek jou saggies gaan optel en net styf vashou.
Hoe verduidelik ek dat ek binne `n paar weke, reeds jou “taal” verstaan – watter huiltjie beteken honger, nat doek of moeg.
Hoe verduidelik ek hoe beskermend ek teenoor jou voel, dat ek met my lewe vir jou sal baklei.
Hoe verduidelik ek dat jy reeds weet dat ek jou mamma is. Dat dit soms net by my is wat jy wil wees.
Hoe verduidelik ek dat jy presies in die waai van my arms pas, so asof jy net vir my gemaak is.

Die vraag het daarom tereg die woordjie voel in, want dit is net `n onbeskryflike gevoel – die warm plekkie in my hart, wat jy met jou sagte pienk babalyfie kom vol lê het.

Jy is regtig op pad

Toe ek nou die dag in die voorgeboorte-klas sit en na die ander mammas met hul swanger magies rondom my kyk, moet ek myself knyp om seker te maak ek is regtig hier.
Toe ek nou die dag die foto’s van my en jou pappa se swangerskapfotosessie kry, kan ek nie help om vir iemand te vertel hoe lekker dit vir my is om ook hierdie normale mamma-dinge te kan doen.
Toe ek nou die middag by my en jou dokter instap en die sekretaresse noem my spontaan op my naam, is die knop in my keel groot… van dankbaarheid… om hier so goed al geken te word in plaas van by die infertiliteitskliniek.
Toe `n vreemdeling nou die dag in die hysbak vir my sê, siestog, dis was seker swaar om in die warm Desember swanger te gewees het, is ek so onkant gevang, want  vir jare was dit ek wat na die ver swanger vroue gekyk het en gewonder het hoe dit moet voel.
Toe ek en jou tannie nou die dag gaan soek vir die perfekte dagsorgplekkie vir jou, moet ek sluk-sluk aan my trane, toe sy skielik na een van die babatjies wys, en sê, so gaan Lily lyk.
Toe mý mamma nou die dag ná die soveelste fototjie van jou pienk kleertjies, reageer met, ag ouma, lê die trane vlak, want ek het nooit gedink my mamma sal die ouma van mý kind word nie.
Toe jy nou die dag, terwyl ek en jou pappa lê en tv kyk, my maag skoon skeef trek omdat jy aan daardie kant wil lê, vergeet ons wat ons gekyk het, en verstom ons net aan jou bewegings in my maag.
Toe ek nou die dag huis toe ry, speel ek jy sit reeds in jou stoeltjie hier skuins agter my in die kar, en begin ek met jou gesels, sonder dat ek in trane hoef op te hou hou omdat dit net by `n droom sal bly.
Toe ek nou die middag in jou kamer instap nadat jou pappa van die laaste afrondings gedoen het, oorweldig die trane my skielik so dat ek net met my kop op sy skouer gaan lê tot ek weer kan verder help.
Toe ons nou die dag op die sonar, jou oortjie, toontjies, vingertjies sien, is ek sprakeloos, want Lily-liefiekind, jy is regtig op pad!

Jy was daar

Renier&MarleseEen Sondagaand het jy jou hand na my toe uitgesteek en my letterlik teruggegehelp die lewe in. Jy het `n stukkie lig kom aansteek in my donker wêreld, wat elke dag net meer helder en helder gebrand het. Totdat dit so helder gebrand het dat ek kon sien wat in my hart aangaan – jy. Jy was in my hart. Sommer net so, sonder dat ek geweet het hoe en wanneer dit gebeur het. En hier gaan ek jou hou en jou liefde geniet en waardeer, en honderdvoudig teruggee, elke dag vir die res van my lewe.

Vandag is dit my belofte aan jou.

Die gevreesde dag is hier

Die gevreesde dag is hier… die een jaar herdenking van jou dood. Die dag wat soos `n lang skaduwee na my toe aangekruip het. En ek is bang. Ek voel die oë op my, die opregtes, maar ook die ander… En ek is onseker. Want die kamers van my hart is verdeel tussen uitermatige geluk en liefde, maar ook diepe seer en pyn. En ek weet nie wat my gevoelens daarmee gaan maak nie, want ek het geleer dat die hart `n wil het van sy eie.

Nog maande ná jou dood, het mense na my toe gekom en vir my vertel wat jy vir hulle oor my, oor ons twee saam, vertel het. Elke storietjie het trane en `n glimalg op my gesig gelaat, want dit was net bevestiging dat jy so gelukkig was soos ek. Iets wat egter my hart gebreek het, is toe `n vriendin my vertel dat jy haar een oggend gebel en gesê het daar is niks wat `n man se hart so breek, hom so magteloos laat voel soos wanneer sy vrou hartverskeurend huil oor `n bondeltjie seer in haar hart waaraan hy niks kan doen. Dit het jou gebreek om my so seer te sien.

En daar het ek besef hoe dit jou hart moes breek om my in die dae, die maande, na jou dood te sien. Hoe jy gesien het hoe ek dag na dag net wegkwyn, my wil vir lewe heeltemal verloor. Jý wat een van die grootste ondersteuners, bewonderaars van my liefde en my energie vir die lewe was.

En ek dink dit is hier waar jy begin ”toutjies trek” het daar Bo. Want dit was maande, jare, wat ek vir `n paar hartsdinge gebid het, maar geen antwoord gekry het nie. En hierdie afgelope jaar, word al my diepste hartsgebede beantwoord. So, ek kan nie help om te dink…

Jy moes vir Hom vertel het dat ek regtig `n goeie vrou vir jou was en dat jy dink dat ek vir iemand anders, wie se hart ook so stukkend soos myne was, `n baie goeie vrou sal wees. En dat jy dink ek `n man nodig het wat my met deernis, teerheid en opregtheid sal liefhê.

Jy moes vir Hom vertel het van daai bondeltjie seer in my hart… daai behoefte in `n vrou se hart. Dat jy regtig dink ek `n goeie ma sal wees en Hy asb. vir my `n klein Pikkewyn moes stuur.

Jy moes vir Hom vertel het dat ek nou al lank `n nuwe uitdaging in my werk nodig het, iets waar ek my energie vir die lewe net nog verder kan uitlewe.

En jy moes vir Hom gevra het om gou te maak, maak nie saak wat die wêreld daarvan sal sê nie, want dit breek jou hart om my so stukkend te sien.

Want jy het my geken, my liefgehad. Ek het jou geken, jou liefgehad.

Vandag is jou verjaardag

Elke jaar as ek jou gevra het wat jy vir jou verjaardag wou hê, en wil doen, het dit iets te make gehad met visvangtoerusting en visvang-uitstappies. Ek het daarom vir `n paar jaar besluit om nie te vra nie… want, het ek gereken, daar moet tog iets beter wees as `n visvang-uitstappie op jou verjaardag, en ek sal dit vir jou wys.

Maar ek het gou geleer, vir jou, is daar nie. Jy was op jou gelukkigste in die natuur, daar waar jy jou PT-short, ou T-shirt en plakkies kan dra en koffie op `n gasstofie kan maak. En kan braai… vir ontbyt, vir middagete, vir aandete. So, jou verjaarsdae saam met my het meesal gepaard gegaan met die een of ander buitelug-uitstappie, en -geskenke… verkieslik `n Kloppers-voucher, sodat jy self jou visvangtoerusting kan gaan aanvul.

Aan die begin van ons huwelik het ek regtig probeer, hard probeer, om hierdie visvang-uitstappies te geniet, maar later het ek besef, ek gaan nooit oor visvang voel soos jy nie, en jou vir `n dag of `n naweek jou uitstappies gegun… sonder om saam te gaan en te maak of ek dit geniet. Behalwe verjaardae… dan het ek my kakie-pet opgesit, foto’s van jou vangste geneem, en tjop na tjop weggeslaan sonder om te vra waar die slaai of groente is.

Maar verlede jaar was moeilik… jy was siek… en ek het nie gedink dit is `n goeie idee om heeldag met jou in die son te gaan sit nie, so, ek het dié een self beplan. Ek het geweet hoe teleurgesteld jy gaan wees, en probeer opmaak met `n Kloppers-voucher, maar my voet dwars gesit by wings en coke by die Spur. Nee, hierdie moet `n spesiale verjaardag wees. Jy het `n moeilike paar maande agter die rug en `n moeilike pad lê nog voor. Ek wil jou bederf met `n meer deftige, stylvolle uiteet. En ek het. En jy het dit regtig geniet!

Vir `n paar uur het ons vergeet van jou kanker en van die pad wat voorlê, jy was jou ou pittige self, met kommentaar oor die klein porsies wat seker nie regtig goed lyk saam met jou groot glas coke nie, en selfs die kelner kon nie help om hier en daar te skater nie.

Dankie daarvoor… want vandag is jou verjaardag, en ek dink onwillekeurig terug aan verlede jaar, en die jare voor dit, en dan huil ek nie, ek lag… ek lag oor jou al jou pittige sê-goed die aand in die “fancy” restaurant. Ek lag oor al die vorige verjaardae en my verleë oomblikke langs die viswaters. En ek lag oor tjops vir ontbyt, tjops vir middagete en tjops vir aandete…

Klein onverwagse opstoppers

`n Mens sou dink dat ek iets oor die dood sou antwoord, of die rouproses, of geloof – dit is nou as iemand my sou vra wat was die grootste les wat ek geleer het van Chris dood is. Maar dit is nie… Al het ek die dood in die oë gestaar, bly dit vir my steeds onbekend, onverstaanbaar en selfs vreesaanjaend. Al het mense wat my gehelp het in die maande ná Chris se dood, vir my gesê hulle het lank terug iemand so diep sien rou, kan ek nie raadgee oor die rouproses nie, hoe dit werk, hoe ek dit hanteer het, en steeds doen nie. Al was my verhouding met God vir `n lang ruk stormagtig, en is dit soms steeds, was die les wat ek daaruit moes leer, nie `n moeilike een nie.

Die moeilikste les wat ek wel geleer het, en glad nie verwag het om uit Chris se dood te leer nie, was `n positiewe, maar ongelukkig meer negatiewe les in mensekennis. Interessant genoeg, die positiewe les het ek gewoonlik by mense wat ek nie so goed geken het nie, geleer. Hulle het my verbaas met opregte, aanhoudende, onvoorwaardelike omgee. En die negatiewe les by mense wat ek gedink het opreg en onvoorwaardelik vir my omgee, vir my lief is.

Ons word amper nooit die keuse gegee of ons die seermaak-houe van die lewe wil hê, of nie. Ons word nie vooraf gewaarsku of geleer hoe om dit te vermy nie. Dit kom net, onverwags, koud en wreed. En dit maak seer… diep seer.

Een oggend word ek wakker en ek voel net nie lekker nie… angstig… ongelukkig. Dít ná `n dag van nóg `n hoofstuk in my mensekennis-lesse… `n negatiewe een. Ná amper `n hele dag se “soul searching” besef ek skielik, maar daar ís van hierdie houe wat ek kan vermy – hierdie klein onverwagse opstoppers. Daardie wat mense meesal nie eers besef hulle deel uit nie, wat hulle nie sien as opstoppers nie. Daardie wat hulle, sonder om te dink… of deur net aan hulself te dink, uitdeel.

Daarom neem ek `n paar moeilike besluite… nie sonder dat ek dit mooi deurdink het nie, maar juis ómdat ek dit mooi deurdink het. Hulle mag dalk nie verstaan nie, en meer opstoppers probeer uitdeel, maar nou is dit net in die lug, dit kan my nie meer tref nie.