Jy is regtig op pad

Toe ek nou die dag in die voorgeboorte-klas sit en na die ander mammas met hul swanger magies rondom my kyk, moet ek myself knyp om seker te maak ek is regtig hier.
Toe ek nou die dag die foto’s van my en jou pappa se swangerskapfotosessie kry, kan ek nie help om vir iemand te vertel hoe lekker dit vir my is om ook hierdie normale mamma-dinge te kan doen.
Toe ek nou die middag by my en jou dokter instap en die sekretaresse noem my spontaan op my naam, is die knop in my keel groot… van dankbaarheid… om hier so goed al geken te word in plaas van by die infertiliteitskliniek.
Toe `n vreemdeling nou die dag in die hysbak vir my sê, siestog, dis was seker swaar om in die warm Desember swanger te gewees het, is ek so onkant gevang, want  vir jare was dit ek wat na die ver swanger vroue gekyk het en gewonder het hoe dit moet voel.
Toe ek en jou tannie nou die dag gaan soek vir die perfekte dagsorgplekkie vir jou, moet ek sluk-sluk aan my trane, toe sy skielik na een van die babatjies wys, en sê, so gaan Lily lyk.
Toe mý mamma nou die dag ná die soveelste fototjie van jou pienk kleertjies, reageer met, ag ouma, lê die trane vlak, want ek het nooit gedink my mamma sal die ouma van mý kind word nie.
Toe jy nou die dag, terwyl ek en jou pappa lê en tv kyk, my maag skoon skeef trek omdat jy aan daardie kant wil lê, vergeet ons wat ons gekyk het, en verstom ons net aan jou bewegings in my maag.
Toe ek nou die dag huis toe ry, speel ek jy sit reeds in jou stoeltjie hier skuins agter my in die kar, en begin ek met jou gesels, sonder dat ek in trane hoef op te hou hou omdat dit net by `n droom sal bly.
Toe ek nou die middag in jou kamer instap nadat jou pappa van die laaste afrondings gedoen het, oorweldig die trane my skielik so dat ek net met my kop op sy skouer gaan lê tot ek weer kan verder help.
Toe ons nou die dag op die sonar, jou oortjie, toontjies, vingertjies sien, is ek sprakeloos, want Lily-liefiekind, jy is regtig op pad!

Lewer kommentaar