Liewe Job

Liewe Job

Ek wil al lankal vir jou skryf, maar ek is bly ek het gewag. Want Job, ek wou vir jou gesê het:

So Job, jy het al jou rykdom verloor, maar daar is mense wat nooit eers rykdom geken het nie en altyd maar hul sente twee keer moes omdraai.
So Job, jy het al jou kinders verloor, maar daar is mense wat nooit eers kinders gehad het nie.
So Job, jy sê jy het sonder iets in die wêreld gekom en sonder iets gaan jy daar uit, maar wat van jou lewensmaat Job, sy is nooit van jou af weggevat nie.

So ja Job, jy het nie gesondig of God iets verwyt nie, maar jy het van die begin af baie gehad om voor dankbaar te wees.

Ek Job, ek kon nie elke naweek `n kalf slag en `n groot partytjie hou nie.
Ek Job, ek het nooit eers die kans gehad om `n kind te hê nie, ek was kinderloos Job.
Ek Job, ek moes my lewensmaat aan die dood afstaan, in `n tyd wat dit al was wat ek gehad het… geen rykdom, geen kind, net hy.

So ja, Job, ek hét dalk gesondig en ek hét dalk vir God verwyt, maar Job, jy moet verstaan, ek het om mee te begin, nooit gehad wat jy gehad het nie. En selfs wat ek gedink het ek het, is weggevat. So, ek het gedink ons stories kan nie vergelyk word nie, alles wat van jou weggevat is, is in oorvloed aan jou teruggegee. Tot daardie dag, Job, wat God sy vinger uitgesteek het en aan my geraak het.

Daardie dag, Job, toe die strop om my nek begin skiet gee het.
Daardie dag, Job, toe `n wonderlike man net in my lewe ingestap het en my ongevraagd kom toegooi het met liefde.
Daardie dag, Job, toe `n klein hartjie binne-in my begin klop het.

Ja Job, daardie dag, het ek geweet, ons stories stuur op dieselfde einde af. God het alles gevat, maar Hy is besig om dit in oorvloed terug te gee.

So Job, nou kan ek saam met jou sê:

Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.
Wie is dit wat U bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: U wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.
Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.

Ek glo nou Job, dat die Here nog lank nie klaar is met my lewe nie. Ek glo nou Job, dat ek gaan oud word en gaan kan terugkyk op `n vol lewe vol baie liefde en baie laggies.

Die regte boks

Ek sit die grys boksie reg tussen die swart en wit boksies neer. En soos die mense opstaan en uitstap, wil ek opspring en skree, waar is julle grys boksies!?! Julle weet net so goed soos ek alles pas nie altyd net in `n wit boksie of `n swart boksie nie. Julle is net te verdomp bang om dit te erken! En ek weet waarvan ek praat – ek het te lank grys stukkies lewe in my swart boksie of wit boksie probeer inforseer. Ek keer daarom my swart boksie en wit boksie om sodat my lewe op die grond voor my val. Ek gaan sit op my hurke en begin oor inpak, nou amper alles in die grys boksie.

Want nou dat die lewe my gestroop het van mensgemaakte brille en oordeel, weet ek, hoe desperaat ek ookal nog altyd my lewe, en selfs ook dié van ander, deeltjie vir deeltjie in óf die swart óf die wit boksie probeer pak het, kry ek dit net nie meer reg nie. Daar is te veel onbeantwoorde vrae, onverklaarbare gebeure, te veel dinge wat net nie wil pas in die wit boks nie, maar ook nie in die swart boks nie. Daar moet `n grys boks wees, daar waar jy daai stukkies lewe kan ingooi waaroor jy sal moet lieg as jy dit in die wit of die swart boks probeer pak.

Maar ek sukkel steeds. Die grys boks maak toe nie dinge makliker nie. Inteendeel, dit is nou net nog `n boks. En ek word moeg. Moeg om alles weer van vooraf uit te sorteer. So moeg, dat al is ek hoe lus, ek net nie energie oor het vir lewe nie.

En dan is skielik alles glashelder! Ek keer die swart boksie weer om, dan die witte en dan ook die gryse, en die stukkies van my lewe val weer voor my op die grond. Maar ek hurk nie weer nie, ek staan op en los dit net daar, sommer so ongeliaseer op die grond. Want ek besef nou, ek het myself deur die jare so uitgeput om alles net in die “regte boks” te plaas dat ek nie genoeg energie oorgehad het om net voluit te kan lewe nie.

Nooit weer plaas ek my lewe in `n boks nie, nooit weer plaas enigiemand my lewe in `n boks nie. Ek is nie God nie, jy is nie God nie.

Sterk vroue

Sterk vroue… daardie vrou na wie ons kyk en dink, ek weet nie hoe sy dit doen nie, of dit is wat ek altyd gedink het. Ek het myself nooit as `n sterk vrou gesien nie. Ek was immers altyd iemand se dogter, iemand se suster, iemand se meisie, iemand se vrou – ek was nooit net ek nie, net ek alleen.  Dit klink dalk veilig, gemaklik, selfs lekker, tot die dag kom wat die lewe die ”ons” wreed uit jou kom skeur. En jy dan gedwing word om net jy te wees.

Daar moet tog iets goeds hieruit kom, Here, het ek vir weke gesmeek ná Chris se dood. En met die tyd het daar – wonderlike, spesiale dinge, maar dinge, mense wat alles net weer verganklik is. En dan pak `n vrees jou beet, want beteken dit ek gaan maar net weer op `n stadium hierdie diepe, diepe pyn moet voel? En met daardie vraag in jou agterkop, begin vrees dan jou lewe vorentoe vorm, bepaal. Vrees sit breed op sy stoel en glimlag… hy het gewen, hy het jou oortuig dat jy nie teen hom kan baklei nie.

Maar waar ek vanoggend voor my psigiater sit, gaan my oë skielik oop vir die stukkie insig wat ek nodig gehad het om vrees vir eens en vir altyd te verdryf. En dit begin met die eenvoudige vraag, as alles van jou weggeneem word, as die ergste ding denkbaar met jou gebeur, wat gaan van jou oorbly? En voor jy nie hierdie vraag met alle eerlikheid vir jouself kan beantwoord nie, gaan jy aanhou om in vrees te lewe, in vrees van, ek kan enigiets hanteer, net nie dít nie. Want dit is presies wat ek gesê het…

Maar die lewe vra nie of jy kan nie. En so word sterk vroue gebore. Dit is nie `n talent of `n sterk punt nie, dis `n oorlewingsmeganisme wat jy aanleer, wat die lewe jou soms dwing om te leer. En ek kyk weer op na my psigiater en sê vir haar, as hierdie tragedie nie in my lewe gebeur het nie, sou ek nooit tot hierdie insig gekom het nie.

En ek glimlag en besef hier is dit – die goed wat uit Chris se dood gekom het. Dat dit nie saak maak hoe een jy met iemand is nie, hoe lief jy vir iemand is nie, ons almal is verganklik. En wat dan van jou? Moenie vir “ek” vergeet nie, want daar kan `n dag kom wat jy “ek” baie goed gaan moet ken om jou pyn te oorleef en jou lewe verder aan te pak. En dit begin nie by `n keuse nie, maar by `n wete, `n wete dat ek oukei sal wees, net ek, maak nie saak wat gebeur nie. Want binne in elkeen van ons bly `n sterk vrou, en ons mag nooit van haar vergeet nie.

 

Daai een toeskouer

Kort voor my eerste Comrades verlede jaar, die af-wedloop, is iemand na aan my se man oorlede. Dit het my tot in my wese geruk en ek het nie geweet hoe op aarde sy hierdie seer gaan oorleef nie, en ek het my Comrades aan haar opgedra. Ná die wedloop het ek vir haar gesê dat my eerste Comrades vir my so simbolies van haar pad was want…

Dit was `n lang onbekende pad, ek het nie `n idee gehad wat om elke draai wag nie – nog `n bult, bietjie gelykpad of selfs dalk afdraend vir `n rukkie? Meeste van die tyd het ek maar net een voet voor die ander gesit, want dit is al wat ek geweet het hoe om te doen. Ek het duisende oë op my gevoel en net my bes probeer om dit te laat lyk of ek oukei is, al was ek nie. Maar dan het daar tye gekom wat ek dit net nie langer kon wegsteek nie en net wou moed opgee. Maar die toeskouers langs die pad het my nie toegelaat nie. Hulle het my aangemoedig, moed ingepraat, elkeen op sy eie manier my help aanhou beweeg tot by die eindstreep.

En dit was my boodskap vir haar – dat ons ”toeskouers” daar vir haar sal wees met elke tree – veral wanneer sy wil moed opgee. Min het ek geweet dat dieselfde pad net `n paar maande later ook op my wag, en ek eintlik besig was om myself voor te berei vir my eie pad wat ek gaan moet stap.

En toe ek vir vanjaar se Comrades aantree, heel ironies die op-wedloop, het ek dit alles skielik onthou. Ek het kilometers tyd gehad om te dink aan al die “toeskouers” in my lewe die afgelope ruk – veral dié wat steeds nog langs my pad staan. Kosbare vriende, vriendinne en familie, Ma en Pa wat enigiets sal doen om my seer te help dra, dit weg vat, en my liewe sus wat letterlik tree vir tree saam met my gehardloop het, met my soms partykeer op haar rug.

En dan daardie een toeskouer wat ek glad nie verwag het nie, wat net stil-stil langs my pad kom staan en my fyn dopgehou het, want hy ken hierdie pad, hy het sélf al hierdie wedloop gehardloop. En hy het net betyds opgedaag – toe ek in `n bondeltjie gaan sit het en van plan was om nie weer op te staan nie. Hy het dit raakgesien, my saggies aan die hand gevat en my opgehelp. Hy het my laat terugkyk het na hoe ver ek al gekom het en bly herinner dat ek nog hier is – ek beweeg nog vorentoe, al draf ek rus-rus, al stap ek soms lang stukke.

Hy het met groot simpatie, maar ernstige eerlikheid gewaarsku op wat nog voorlê, maar my ook die versekering gegee dat hy daar sal wees langs die pad as ek hom nodig het. En hy was, hy is steeds, soms sonder dat ek hoef te vra, hy weet net. Ek kon by hom al die maskers afgooi, my swaarkry wys, want hy het verstaan, hy het regtig omgegee.

En uit hierdie omgee is iets spesiaals gebore – ja, dalk omdat ons dieselfde wedloop al gehardloop het, maar nog meer omdat ons altwee weet dat om `n drafmaat te kry wat presies jou pas draf, raar en besonders is. En as daai maat se voetstappe skielik stil word, kyk jy maar net af en hardloop alleen verder, want dit is tog nie moontlik om nog iemand te kry wat so perfek in pas met jou hardloop nie.

Maar dan ewe skielik hoor jy iemand langs jou, en julle tekkies val met dieselfde ritme op die teer. Julle kyk verbaas op na mekaar, altwee onkant gevang deur die gelyke ritme van julle tekkies. En jy weet, daar is toe wel nog iemand wat die ritme van jou hart verstaan.

Waag ek…

Waag ek die pen opneem met `n glimlag op my gesig? Waag ek skryf oor dit wat my hart so warm laat klop? Waag ek laat deurskemer dat ek weer aan `n toekoms beplan?

“Ons wil hê jy moet gelukkig wees – dit is net die tyd wat pla. Dit is te vinnig.”

Nie die regte tyd om weer gelukkig te wees nie? Te vinnig om weer liefde te vind? Stel `n mens regtig `n tydsvereiste aan geluk en liefde?

Natuurlik nie as dit `n nuwe hondjie of katjie, `n nuwe huis of kar, of selfs `n goeie werksgeleentheid is nie. Maar as dit by sake van die hart kom – daar waar ware geluk ironies genoeg lê, dan raak tyd skielik `n probleem. Dán word daar vrae gevra, wenkbroue gelig, afleidings gemaak.

Het ek daarvoor gaan soek? Nee, beslis nie. Is ek nietemin bly ek het dit gekry? Ja, `n duisend keer ja. Die lewe vra nie ons toestemming nie, hy neem en hy gee. En nie teen een van die twee kan ons werklik stry nie. Wat hy nou vir my uitgedeel het, wíl ek ook nie teen stry nie.

Moet ek dit dus waag om te probeer verduidelik, te probeer regverdig? Nee! Al wat ek moet waag, is `n kans  – `n tweede kans op `n toekoms vol geluk en liefde.

Ses maande kom toe vroeg

Vyf maande, twaalf dae… Dis vandag vyf maande en twaalf dae sedert my lewe onder my uitgeruk is. Die afgelope twee maande het ek egter weer my voete begin vind, stadig maar seker. Ek het weer begin lag, begin  beplan aan `n toekoms. Maar dit het in my agterkop gebly… die ses-maande-stelling waarvan ek in al die rou-boeke gelees het. En ses maande kom nader, maar ek voel steeds oukei en begin dink miskien is ek anders… miskien het ek in my eerste drie maande so diep gerou, dat ek oukei sal wees deur die ses-maande-periode…

Só dat ek besluit ek sien nou kans om Chris se klere uit te sorteer, vir my te hou wat ek wil, en die res te laat gaan. Ek is nie onverwags betrap toe die hoendervel op my uitslaan soos ek die sakke bo uit die kas haal waar ek dit vir maande vir my hart weggesteek het nie. Ek het verwag dat wanneer ek met dit in my hande staan, dit aan my hart gaan vat.

Ek gooi al die klere op `n hoop op my bed uit en begin deur alles gaan… die kan-gaan-klere die kant, die moet-gehou-word-klere die kant… want dít was darem sy gunsteling-broek, dáár is immers sy bloubul-hemp, en daai is sy das wat hy op ons troue aangehad het… en so groei die hou-hopie net al hoe groter as die laat-gaan-hopie.

Ek sak tussen die hou-klere neer en begin huil. Ek weet die hopie moet heelwat kleiner… maar ek weet nie hoe nie! Ek onthou ek het `n rukkie terug vir my sus wat hulp aangebied het met die uitsorteer, gesê dit is net klere, ek sal dit self doen… maar dis nie die klere wat snikke uit my bors laat skeur nie, dis die onthou wat aan elke kledingstuk kleef. Tussen die trane deur, kry ek dit egter reg om tog die bondel te laat krimp. En toe is ek net moeg, ek sal dit môre in my kar laai, belowe ek myself.

Vanoggend staan ek op, nog `n daggie nader aan ses maande, ek voel nie heeltemal myself nie, maar ek besluit ek moet net aan die gang kom, dan sal dit beter gaan. Ek besluit om sommer dadelik die sakke klere in my kar te gaan pak. Sak ná sak dra ek die klere na die kar toe, met elke keer se terug huis en toe en weer kar toe, word die sakke swaarder, word my hart swaarder… die laaste sak – hy gaan skielik oop en die gholf-hempies begin voor my op die sementvloer val. Ek probeer dit vinnig terugpak voor enige emosie my oorval. Ek stap terug in die huis in. Ek gaan nou net gou bad en dan ry met die klere agter in die kar. Maar ek steek net daar in my spore vas… en ek weet skielik die ”ses maande” het vroeg opgedaag. Ek sak op die bank neer en huil vyf maande en twaalf dae se seer, se trane.

Die trane droog later op, maar my hart bly swaar… so swaar dat ek nie kan opstaan nie en ek bly maar net lê… die boeke het nie verniet gewaarsku teen die “ses maande” nie.

Talm by die deur

Ek staan met die deurknop in my hand, besig om die deur toe te trek, maar ek talm eers bietjie. Want hierdie is nie `n deur wat `n mens net sommer so toetrek nie – hierdie is nie `n deur wat ék net sommer so toetrek nie. Ek kyk versigtig oor my skouer na alles wat ek verbete aan vasgeklou het en nou gaan agterlaat, maar ek sien ewe skielik niks. En ek besef alles wat ek moes saamvat, het ek in my hart weggepak waar dit veilig sal wees vir die res van my lewe. En ek weet dit is tyd om op te staan uit die donker, die deur agter my toe te trek en te begin stap op my nuwe, onbekende lewenspad.

Maar net ná `n paar treë, loop ek my tromp-op vas in `n nuwe deur – `n deur wat ek glad nie raakgesien het nie; wat ek nie verwag het om op my pad te kry nie – nie nou al nie… nooit nie. `n Deur wat ek in elk geval vasberade gesweer het ek my hand nooit na sal uitsteek nie. So, half ergerlik, begin ek doelgerig verby die deur stap. Maar my driftige verbystap laat die deur effens oopwaai en `n skrefie vae bekendheid, `n skrefie lig, vang my oog. En ek stop, maar ek raak nie aan die deur nie, druk dit nie verder oop nie. Maar ek talm by die deur.

Maar die lig skyn elke dag `n bietjie meer helder, `n bietjie meer warm deur die skrefie. Dit val op my gesig en laat my glimlag. Die warmte laat my veilig voel.

En ek steek my hand uit en stoot die deur oop…

Ek is jammer…

Ek is jammer ek was nie daar toe jy in my arms dood is nie. Ek is jammer ek was nie daar terwyl die dokters vir my verduidelik wat met jou gebeur het nie. Ek is jammer ek was nie daar toe ek heelnag langs jou bed gesit het nie. Ek is jammer ek was nie daar terwyl ek met my kop op jou bors gelê het toe hulle die masjiene afgesit het nie. Ek is jammer ek was nie daar toe ek jou die laaste keer gaan groet het nie. Ek is jammer ek was nie daar terwyl ek agter jou kis aangeloop het, toe ek gesien het hoe hulle `n laaste keer met jou wegry nie.

Want toe jou gees jou liggaam verlaat het, het myne my liggaam ook verlaat. Joune het `n bestemming gehad, myne nie. Maar ek het nogtans dadelik weggevlug uit die kloue van `n seer, `n pyn wat my beslis sou verslind.

Gelukkig is ons uit-gewoonte-mense. Want nou staan ek elke oggend uit gewoonte op, ek gaan draf soms uit gewoonte, ek eet uit gewoonte, ek gaan werk uit gewoonte en ek kom slaap uit gewoonte. Maar my gees sweef nog êrens rond, want ek klou verbete vas aan die deur van my hart sodat my gees nie daar kan inkom nie, want ek weet wanneer my gees by my hart uitkom, ek nie daardie pyn gaan kan hanteer nie.

Moet daarom nie vir my sê Chris is altyd by jou nie, want dit gaan beteken ek moet my hart se deur oopmaak, want dit is waar Chris nog altyd was.
Moet daarom nie vir my sê, moenie so voorgee en teen die trane baklei nie, want dit gaan beteken ek moet my hart se deur oopmaak, want dit is waar ek my masker afhaal.
Moet daarom nie vir my sê jy moet aangaan met jou lewe – doen dinge waarvan jy hou, want dit gaan beteken ek moet my hart se deur oopmaak, want ek het nog altyd uit my hart uit gelewe.
Moet daarom nie vir my sê jy sal weer eendag geluk vind nie, want dit gaan beteken ek moet my hart se deur oopmaak, want geluk is nie in ander mense nie, dit is in wat hulle in jou hart gesit het.
Moet daarom nie vir my sê God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet nie, want dit gaan beteken ek moet my hart se deur oopmaak, en sê nou ek kry nie vir God daar nie?

So, los my met my masker op waarmee ek dinge uit gewoonte doen, want my hart sal nie my gees se boodskap oorleef nie.

My rooi stoel

Soos soveel nagte die afgelope tyd, wil die slaap net nie kom… Donker gordyne, meer veiligheidshekke… dit was toe nie die oplossing nie. Dis jou leemte wat my wakker hou – die stilte hier langs my. Ek het vanaand voor ek my oë toemaak, probeer om met jou te praat, in die hoop dat dít dalk sal help. Maar die hol ego van my stem, het my net weer laat besef ek is alleen, jy lê nie hier langs my nie.

Ek mis jou vannag weer, soos wat ek net met trane kan beskryf, en daar was niks wat dit ge-trigger het nie… daar was nooit in ons verhouding, in ons huwelik nie. Dit was net spontaan – drukkies, soentjies, troetelwoordjies, sonder aanmoediging, werk of oortuiging… sonder triggers – sommer net, omdat ons net nie anders kon nie.

Die realiteit dat jy weg is, tref my elke dag net meer. `n Mens kan jouself net so lank oortuig dis net `n nare droom waaruit jy gaan wakker word. Ek mis jou, Chris – met alles wat ek is, mis ek jou vannag. En ek probeer  – waaragtig ek probeer, maar die seer vreet my op hier binne, soos `n kanker… soos jou kanker.

Ek probeer alles in my nuwe huisie maak, soos ek dink jy sou daarvan hou – die bank wat nou in die sitkamer staan, ek weet jy sou mal daaroor gewees het . En ek het ons kamer blou gemaak… ek is so jammer, Lovey, ek weet jy wou dit altyd so gehad het, en dan het ek gesê, ek weier om die kamer `n bloubul-kleur te maak. Maar dit is nou blou. Met jou bloubul-beer tussen die kussings – of dit nou common lyk of nie…

Maar ek het vandag vir my `n rooi stoel bestel… ek weet jy het altyd gesê, nee genugtig, dit sal nou vir jou way out wees. Maar dit is soos soveel kere wat mense vir my sê, Chris sou wou gehad het jy moes… maar hulle verstaan nie Chris, jy is nie meer hier nie. Chris, jy weet nie hoe dit voel om sonder jou te wees nie – jy weet nie hoe breek my hart oor jou elke sekonde van elke dag nie.

So, ek het my rooi stoel bestel… om my elke dag te herinner dat ek nog hier is… want party dae voel dit of ek saam met jou dood is.

Die onbekende pad

Ek het gisternag vir die derde keer van Chris gedroom vandat hy dood is. Die eerste droom het baie vinnig gekom en het vir my baie duidelike betekenis gehad – dat Chris my geken het, dat hy vir my gesorg het, maar dat ons binne die hegte eenheid van ons huwelik, steeds die vrymoedigheid gehad het om elkeen sy eie lewe te lewe.

Vir `n lang tyd daarna het ek nie van hom gedroom nie, al het ek so gesmag daarna. Tot so `n paar weke gelede, en toe weer gisternag – verskillende drome, maar met dieselfde tema. In altwee drome word die twee dinge waarmee ek nou die meeste worstel, genoem. En dan eindig altwee drome presies dieselfde – met iemand wat sê, dit is `n wonderwerk dat Chris uit daai hospitaalbed opgestaan het en nog lewe…

Ek het die afgelope drie maande baie gelees oor die rouproses en al die boeke sê dat mense verskillend rou – veral wat die tydsduur aanbetref. En die tydlyn in my rouproses begin nou duidelik vorm aanneem – die eerste maand en `n half was ek net in erge, erge skok – ek en Chris het geweet hy is siek en ons het `n pad om te stap, maar nie een van ons het ooit aan die moontlikheid van dood gedink nie. En dan die trauma van daardie dag en nag…

Die volgende maand en `n half het ek hand aan hand gestap met ons groot vriend, denial. Ek het my bes probeer om my lewe so na as moontlik terug te kry aan hoe dit was voor Chris dood is – dinge gedoen wat ek normaalweg sou doen. Dit moes egter insluit dat ek my emosies moes onderdruk. Wanneer ek aan Chris gedink of oor hom gepraat het, het ek dit gedoen sonder veel emosie. Want die erkenning, die ervaring van jou pyn, en denial, sit nie om dieselfde vuur nie.

Die afgelope paar dae het ek besef iets is besig om te verander in my rouproses. Ontkenning is besig om plek te maak vir iets nuuts. Presies wat, weet ek nog nie. Maar gisternag se droom het dit vir my bevestig. Hoe graag ek ookal nog vir `n ruk saam met denial sou wou stap, is ons op so `n wonderbaarlike manier geskape, dat ons verstand, ons siel, ons gees, weet wanneer dit tyd is om verder aan te beweeg in die rouproses.

Ek is maar bang vir wat voorlê, want ek kan voel dat die res van die pad my baie gaan dwing om realiteit in die oë te staar, en in die proses meer in voeling te wees met my ware seer. Daarom gaan ek ook nie veel probeer om die laaste twee drome se betekenis te ontrafel nie, dit sal wel met tyd vir my duidelik word.