Om jou mamma te wees…

Hoe voel dit om `n mamma te wees, wil almal by my weet. En ek verstaan nie hoekom ek so stotter en val oor my woorde as ek probeer antwoord nie! Dit is tog wat ek vir so lank met my hele hart wou hê – om `n mamma te wees. So, ek behoort die vraag tog maklik, spontaan te kan antwoord.

Toe ek rustig gaan sit en dink daaroor, kom die oomblik toe die suster jou in my arms kom sit het, dadelik by my op. Die trane het vrylik oor my wange begin stroom toe ek jou sagte lyfie in my arms hou, jou warm asempie in my nek voel en na jou gekreukelde gesiggie staar. Tyd het skielik gaan stilstaan. En nou verstaan ek, die vraag moenie wees, hoe voel dit om `n mamma te wees nie. Die vraag moet wees, hoe voel dit om jóú mamma te wees – Lily se mamma.

Maar steeds bly die woorde min, want…
Hoe verduidelik ek dat as jy net `n bietjie lank slaap, ek so na jou verlang dat ek jou saggies gaan optel en net styf vashou.
Hoe verduidelik ek dat ek binne `n paar weke, reeds jou “taal” verstaan – watter huiltjie beteken honger, nat doek of moeg.
Hoe verduidelik ek hoe beskermend ek teenoor jou voel, dat ek met my lewe vir jou sal baklei.
Hoe verduidelik ek dat jy reeds weet dat ek jou mamma is. Dat dit soms net by my is wat jy wil wees.
Hoe verduidelik ek dat jy presies in die waai van my arms pas, so asof jy net vir my gemaak is.

Die vraag het daarom tereg die woordjie voel in, want dit is net `n onbeskryflike gevoel – die warm plekkie in my hart, wat jy met jou sagte pienk babalyfie kom vol lê het.

Lewer kommentaar