Rubrieke

Ek het `n paar jaar gelede die waters getoets met my weeklikse rubriek in Volksblad. Vir die wat dit nog nie gelees het nie, hier is `n paar.

As jy die dag 30 is, doen jy dít nie meer...

So bevind ek myself nou al die afgelope vier jaar aan die verkeerde kant van 30. En vroeg in my 30ste jaar sê iemand met opgetrekte wenkbroue eendag vir my: As jy 30 is, doen jy dít net nie meer nie. En die antwoord op my hoekom . . . jy is nie meer in jou 20s nie! So, klaarblyklik is daar ’n paar goed wat jy net mag/kan doen as jy in jou 20’s is. So, in hierdie rubriek takel ek die 30 dinge om te doen voordat jy die dag 30 word! Nommer een op die lysie (en met ’n goeie rede heel bo-aan): Gaan 30 met jou doelgewig binne. Die grootste fout wat jy kan maak, is om sodra jy 30 word, te probeer om daai ekstra paar kilo’s af te skud. “Been there, done that, got the T-shirt” (in my 20’’s natuurlik) . . . Glo my, daai T-shirt begin onverklaarbaar knap sit op 30! Jy sal met ’n skok op die oggend van jou 30ste verjaardag ’n paar sagte rondings en rolletjies ontdek wat nie op die laaste dag van jou 29ste jaar daar was nie. So, nou sit jy met die ekstra gewiggies wat jy saamgebring het uit jou 20’s, plus die nuutgevonde ongevraagde 30’s-gewig. En moenie vergeet van jou metabolisme wat ook op ’n slow-strike gaan nie, gewoonlik direk ná jou groot 30ste verjaardagete. Om alles te kroon, verbreed jou belangstelling ook ewe skielik op 30. Waar jy in jou 20’s in die aande net gou channel-hopping kon doen voordat jy gaan gym, is daar nou skielik hordes sepies en kletsprogramme wat regtig van toepassing is op jou lewe. En wie kyk nou televisie sonder tjoklits? En dan is daar nog jou regte lewe wat waarskynlik ’n man en kinders insluit. Jou doelgewig staan net nie ’n kans in jou 30’s nie!

Dit raak moeilik om cool te wees in jou 30’s

In die week kry ek  een  aand  ’n WhatsApp-boodskap (ja, mense in hul 30’s gebruik WhatsApp) van my skoonsus se tienerdogter. Haar boodskappie lees, weet Tannie wat beteken wmj? Goed, dis 21:30, ek slaap al, ek word tannie genoem, ek weet nie wat beteken wmj nie en ek het ook nie ’n skerp antwoord om my onkunde te omseil nie – en ek voel skielik so nie-cool. Ek antwoord toe, nope (darem cooler as net gewone nee, reken ek toe). Sy antwoord: Wel, nou gaan ek vir Tannie leer, dit beteken wat maak jy? Goed, so die tannie is geleer om bietjie meer cool te wees, en ek vra haar toe sommer of dit haar bedoeling was – om my nou lekker cool te maak. Haar antwoord, nee, Tannie is al klaar kwl. Net jammer die tannie spel toe cool verkeerd, dink ek . . . Sy leer die tannie toe nog verder van vmi (vertel my iets) en toe ek kla dat ek deurmekaar word, antwoord sy ewe onskuldig: 2ma tannie, oz mense BBM en MXIT mos so. Wat mooi vir my vertel ek is nie deel van die uitgekose oz mense-groepie nie. Met ’n gevoel van verwerping stop ek die gesprek toe sommer net daar met die verskoning dat ek vaak is en gaan groet (ek gee nou nie meer om of dit 21:30 is en ek gaan slaap nie, ek is in elk geval nie deel van die kwl-groep nie). En sy groet met ’n mwah! So, my raad, gaan jou 30’s so cool (ag, ek bedoel kwl) moontlik in, heeltemal op die hoogte van allerhande kwl-woorde. Soos dit is, is dit moeilik om cool te wees in jou 30’s, moet dit daarom nie met ’n agterstand binnegaan nie. Tot volgende week – mwah!

Kry ’n man, ’n kind of ’n goeie verskoning

So, jy dink die vrae hou op wanneer jy die dag 30 word . . . Ongelukkig nie, dit verander net en raak selfs meer persoonlik. Ek praat nou van dáárdie vrae deur besorgde tannies: Het jy al ’n kêrel? Hoe vorder jou loopbaan? Het jy al ’n plekkie van jou eie? In jou 20’s kan jy nog baie wegkom met die antwoord, ag Tannie, ek is nog jonk, daar is nog baie tyd. In jou 30’s is die tannies egter nie meer tevrede met daardie antwoord nie en smoor dit sommer in die kiem nog voordat jy dit kan gebruik: Sjoe kindjie, jy is nou 30, moet jy nie aan trou begin dink nie? Of, sodra jy van die wittebrood af terugkeer: Blommetjie, wanneer begin julle nou met ’n ou gesinnetjie, jy weet, julle moet darem nog saam met die kindertjies op die gras kan speel? Geen antwoord soos: “Tannie, 30 is eintlik die nuwe 20, en ek werk eers aan my loopbaan.” Of: “Tannie, ek wil seker maak ek trou met die regte man voordat ek die dag afhaak,” stel hulle tevrede nie. Ná so ’n antwoord skiet die wenkbroue gewoonlik in die lug en word daar saggies, ag siestog, agter bakhande gefluister. So, jy het een van twee keuses. Jy kan op die vooraand van jou 30ste verjaardag êrens vir jou ’n man en kind gaan opraap. (Dit lyk in elk geval vir my of die tannies dink mans en kinders is vrylik beskikbaar op die naaste supermark se winkelrakke.) Óf jy kan ’n klompie goeie verskonings vir die besorgde tannies in jou 30’s uitdink. En vir dié in jou 40’s. En vir dié in jou 50’s. Want elke dekade gaan gepaard met sy eie reeks vrae . . . en besorgde tannies.

Dié trop word kleiner

En daar noem ek toe verlede week Oppikoppi, Oppikoffi. Nodeloos om te sê wat ’n knou ek my nogal cool-status toegedien het. Wat dit nog erger maak, is dat Oppikoffi mos die koffiewinkel in die immergewilde Afrikaanse sepie, 7de Laan, is. En dit maak nie saak hoe hard ek probeer verduidelik het dat dit net ’n tongglip was nie, die cool dudes (waarvan baie ook in hulle 30’s!) glo nou dat ek Sondagmiddae die 7de Laan-omnibus getrou volg, in plaas daarvan om van ’n besige sosiale naweek te herstel. Verder kry ek ook links en regs houe omdat ek glo rowwe veralgemenings maak oor mense in hul 30’s – die meeste ís glo baie cool. Wel, ek ook! Al wat ek sê, is dat dit met elke dekade in jou lewe minder spontaan kom. Maar goed, ek swaai die wit vlag – hierdie was my laaste opmerking oor die cool-onderwerp – jy kán cool wees tot jy 83 is . . . of probeer wees . . . of dink jy is. Sterkte daarmee! Die ding van 30 wees, is dat die trop kleiner word – jy begin in kleiner groepe beweeg (behalwe op Facebook natuurlik – daar bly dit altyd van kardinale belang om ten minste 350 vriende te hê, al het jy net 50 van hulle al ooit in lewende lywe gesien). Waar jy altyd in groepe van ten minste tien pêlle saam uitgegaan het, is die groepie nou ten minste 50% kleiner. Dit is asof jy uiteindelik ontdek het wie jy nou regtig is – al het dit jou nou drie dekades geneem – en dan in die groep inbeweeg waar jy regtig gemaklik is en nie iemand hoef te probeer beïndruk nie. So, belangrik in jou 20’s – kuier vir oulaas in die groot trop, sodat jy vir jou in die proses ’n spogkudde vir jou 30’s kan loskuier.

Sorteer jou issues reeds in jou 20’s uit

Ek kan nooit verstaan hoekom mense so bang is om 30 te word nie (sê ek nou ewe kordaat ’n paar jaar ná my massa-histerie-aanloop-tot-30). Amper halfpad daardeur, kan ek egter nou getuig, dit is sover nog die lekkerste dekade van my lewe. Ek dink baie mense se 20’s is die dekade waarin jy jou hoogste hoogstes en laagste laagstes ervaar – ek praat nou spesifiek van jou karakter. As kind leer jou ma jou maniere en aanvaarbare optrede en jou pa foeter die verkeerdes uit jou uit. As tiener besluit jy egter dit was totaal onnodig, jy weet van beter, jy sal besluit . . . En dis dan wanneer jou 20’s aanbreek . . . Maar snaaks genoeg, kies ons dan weer om dit nie self te doen nie en wil steeds by ander leer. Ons pluk die Monopoly onder die bed uit en nooi drie mense om saam te speel. Jy probeer jou absolute bes, maar die dobbelsteen wil nie reg val nie en daai blondine raap elke keer Eloffstraat voor jou neus weg. Maar toe sy nie die groenes ook kan bekostig nie, gooi sy die bord om en skreeu, ek speel nie met julle losers nie . . . en jy glo jy is ’n loser. Daai gespierde ou betaal sommer uit sy gatsak vir die geel en groen hoek, maar raak gou verveeld met al sy geld en staan op en sê, ag julle lot is boring . . . en jy glo jy is boring. Dit laat jou en die effe-oorgewig rooi-krulkop-sproetgesig wat net die bruines en ligbloues op sy naam het, maar daar’s ’n lus in sy oë om die dobbelsteen weer en weer te gooi, want heng, hy speel lekker! Speel jou Monopoly met oorgawe in jou 20’s, maar moenie dat die donkerbloues, groenes en geles jou vorm nie. Karakter kry jy by die bruines en ligbloues. Moenie deurmekaar in jou 30’s aankom nie, dis net ’n heeltemal té lekker tyd om nog met klomp issues te sukkel.

Skryf ’n paar nuwe stories

“Ek’s ’n koedoe, ek’s ’n koedoe,” begin ek ’n paar aande terug uit volle bors sing terwyl ek en my werderhelf in die bed lê en TV kyk. As dit nie was dat hy gedink het ek is steeds besig om sy lof te besing ná ’n baie suksesvolle jaguitstappie nie, het hy beslis die telefoon gegryp om te bel vir hulp . . . Maar dis nie dit nie, ek is op ’n nostalgietoer. Toe ek en my sus nog kleuters was, was een van ons lekkerste tydverdrywe om vir my ma te vra: “Vertel ons van toe Ma jonk was.” En dan het daar die snaaksste stories uitgebroei. My gunsteling was uiteraard as sy vir ons een van hul atletiekliedjies, Ek’s ’n koedoe, ek’s ’n koedoe, gesing het. Ek was ’n paar keer amper flou van die lag. Dan is daar ook die keer toe haar boetie haar op die plaas in ’n kruiwa gestoot en kwansuis beheer oor die “voertuig” net langs ’n hoop hoendermis verloor het en sy kop eerste daarin beland het. Of toe my ouma die einste boetie van haar met ’n koekie boerseep tussen die blaaie gegooi het toe hy dit gewaag het om weg te hardloop vir die pak slae ná die hoendermis-insident. En van die kere wat sy en haar sussie (wat omtrent identies lyk) mekaar verlos het van blind dates. Die stories was eindeloos en tot groot vermaak van my en my sus. Het jy genoeg stories om jou kinders eendag te laat kraai van die lag? Of waarmee jy ’n klompie van jou vriende om ’n vleisbraaivuur kan vermaak? Indien nie, is dit nou in jou 20’s ’n goeie tyd om nog so ’n paar stories te “skryf’’.

Los maar jou grootmensskoene in jou kas

Ek weet nie of dit is omdat ek onlangs op Facebook kontak met my sub A-juffrou, wat ook vir ’n jaar of wat ons netbalafrigter was, gehad het nie. Of manlief se skerp opmerking een oggend toe hy my wil groet en amper oor die hond se mandjie langs die bed val: “Sjoe, amper maak ek ’n voetfout.” Of bloot net die netbalpaal wat ons op die grasperk in die erf voor die nuwe huis gekry het (en moes ek nou subtiel veg vir die voortbestaan van dié paal). Toe ons ingetrek het, het manlief gesê ons moet seker die paal uithaal. Maar ek het ander planne met dié paal gehad . . . Ek het toe vinnig gegryp na verskonings soos dat hier tog gereeld van die familie se kinders kom kuier en soms verveeld raak. Ek sal sommer ’n bal aanskaf wat ons in die kas kan bêre en dan kan hulle lekker speel as hulle kom kuier. Dit was amper, maar die paal het oorleef. En Saterdagmiddag kry ek toe my lang verwagte kans – my peetkind kom kuier. Ek is nie seker of ek die meeste opgewonde is oor die doelpaal of daardie inkleurboeke wat sy altyd saambring nie. So, toe sy opdaag, lê die bal al ure gereed onder die netbalpaal en ’n kombers is onder die boom gegooi vir die inkleur-pouse wat ons sal neem as ons moeg raak van al die netbalspelery. Sy lyk nie vreeslik lus vir enige van my beplande aktiwiteite nie, maar ek gaan nie hierdie kans deur my vingers laat glip nie en maak haar staan reg onder die paal. Al kan sy nie eens die bal verby my kop gooi nie, hou ek aan om haar te oortuig om weer te probeer. En toe sê sy die wonder-woorde: Sussa, dis nou bietjie jou beurt. En êrens moes ek bietjie te veel in vervoering geraak het . . . Want ek besef eers weer ek is net op die grasperk in ons erf toe ’n meisietjie op haar fiets verby ons huis ry en die springende, doelende tannie (wat sommer ook op haar voetfoute let) met ’n oop mond aangaap. Ek probeer gou die situasie red, en gooi die bal na Eunike se kant toe (of waar ek gedink het sy staan nog), maar sien toe sy is seker al besig met haar vyfde prentjie op die kombers onder die boom. Ek verdwyn toe maar skaam-skaam met die bal in die huis en gaan maak ietsie vir my peetkind om te eet – soos dit die tannie betaam. Maar kan jy glo, toe ek weer buite kom, sien ek manlief is besig om sy doele met oorgawe te oefen – en hy wuif selfs vir die meisietjie wat weer met haar fiets daar verbykom. En ek laat sak my kop in skaamte en wonder, hoekom skop ons tog so vroeg ons kinderskoene uit? Los jou grootmensskoene nog bie­tjie in jou kas in jou 20’s en gooi nog ’n paar doele en kleur nog ’n paar prentjies in.

Agteros kom ook in die kraal

Ek is ’n agteros. Late bloomer klink baie beter, maar dit laat my te veel dink aan mense wat in Engels vloek omdat dit darem net te kras op die oor klink in Afrikaans. Ek het lank ná matriek eers my kortbroeke, jeans en tekkies vir rokkies en hoëhakskoene verruil. Ek het eers regtig ernstig begin grimeer op 26. En ek het my eie motor eers op 28 gekoop. Basiese goedjies wat nie te veel skade aan my ontwikkeling as jong mens berokken het nie, maar soos elke ding, het agteros-wees, ook maar sy nadele. Ek het my groot passie vir draf eers ernstig begin beoefen op 29. Ek het my liefde vir kosmaak eers ’n jaar of wat gelede ontdek. Ek het nog altyd ’n liefde vir skryf gehad, maar neem eintlik eers nou die bietjie die pen op. En ek het eers op 30 getrou. Ek en my sus het ’n klompie jare gelede hul hek van die reling afgeskuif. (Amper iets soos die dag toe ons my pa se bakkie in die muur vasgestoot het om ’n tennisbal van die dak af te haal tydens een van ons plaaslike tennistoernooie in die agterplaas.) Sy het my met wat-nou?-oë aangekyk. Ek het gebuk, die hek opgetel en weer terug op die reling gesit. En haar reaksie – wow, Lee, jy het nie ’n man in jóú lewe nodig nie. Ek het amper flou geword, want vir ’n enkellopende vrou in haar laat 20’s waag jy nie so iets sê nie. Maar vandag kan ek terugdink aan die wysheid waarmee daardie woorde gelaai was en die “ek het eers op 30 getrou” van my nadeellysie na my voordeellysie toe geskuif. Want dit is nie noodwendig ’n slegte ding om ’n agteros te wees nie. Agterosse word gedwing om dinge vir hulself uit te pluis (soms oor en oor . . .), want die ander osse is teen daardie tyd reeds lankal as ’n groep verby. En ’n mens leer mos dan maar so in jou enigheid uit jou foute: Soos ’n dronk mens wat sy bes probeer om normaal te stap, maar dan nog net meer slinger, probeer jy stywe-ruggie-regop met daai hakke loop net vir iemand om agter jou te vra of jy die een of ander kuitbesering het. Of jy kry die vragie: “Het jy min geslaap die afgelope tyd,” en jy besef hulle verwys na die donker kringe onder jou oë wat jou beste poging met jou nuwe oogomlyner was. En dan daai vervlakste rooi Uno. Terwyl almal al lankal geleer het uit daai eerste verkeerde kopie, ruk-ruk agterosse nog rooi in die gesig verby elke verkeerslig. Dan speel agterosse ook baie graag die sê-nou-speletjie – sê nou ek het op 16 ’n afrigter gekry en hard geoefen, kon ek dalk volgende jaar Olimpiese Spele toe gegaan het. Of kon ek Suid-Afrika se Jamie Oliver geword het. Of kon ek dalk ’n boek geskryf het. Of kon ek, of kon ek, of kon ek . . . En ek en manlief kon nou al ons tiende huweliksherdenking êrens op ’n wit strand gevier het. So ja, die feit bly ongelukkig staan, 20 is op pad 30 toe. Moet daarom nie só ’n agteros wees dat jy jou 30’s verpas en eers in jou 40’s daar aankom nie. Maar leer alles wat jy kan terwyl jy bietjie agter die groep 30’s toe beweeg.

Moenie langer broei as die skuldige

Die enigste keer wat ek al in my lewe so feministies gevoel het soos verlede week, was ’n klompie jare gelede toe ek op dieselfde aand die flieks, Paradise Road en GI Jane gekyk het. Nou kyk, ek gee toe, verlede week was nie die beste week van my lewe nie en my geduld was ’n bietjie kort. So, toe ek skielik op pad werk toe in my tru-spieëltjie kyk en die jong man ry so naby aan my dat ek amper die maak van sy selfoon kan lees waarmee hy besig is om te praat, vlieg die laaste bietjie geduld wat ek in my tenkie gehad het by die motor se venster uit, en ek trap rem sodat meneer hier agter amper in my bagasiebak beland. Nodeloos om te sê is die mannetjie woedend en begin vir my beduie. In my poging om met handgebare vir hom te wys hoekom ek dit gedoen het, mis ek my afdraai. Wat eintlik toe die gebaretaal waarmee ons besig is heelwat vergemaklik, want toe is daar twee bane sodat ons reg langs mekaar kan ry. Ek is nou nog nie seker of hy verstaan het wat ek vir hom probeer verduidelik het nie, maar glo my, ek het verstaan wat hy vir my gewys het, en dit het my laat besef ek moet liewer die volgende afdraai vat, want anders gaan ek ’n aar bars van woede. Dit het my ’n paar dae gevat om die voorvalletjie uit my sisteem te kry. En toe ek uiteindelik weer saam met die radio kan sing op pad werk toe, het ek bietjie lag gekry vir myself en besluit hierdie moet ’n 30’s-ding wees, want toe ek in my 20’s was, sou ’n voorval soos hierdie my net soveel omgekrap het, maar dit sou net twee minute in plaas van twee dae geduur het. So, hierdie is ’n belangrike 20’s-eienskap om saam te vat na jou 30’s toe. As jy jou vererg vir iets of iemand (en jammer manne, dit is heel toevallig dat dit toe ’n jong man was wat my tot hierdie insig laat kom het), moenie dat dit so in jou broei nie. Die skuldige party dink gewoonlik, en dit is nou as hy (of sy) die voorval onthou, nie langer as ’n minuut daaraan nie. Moenie hom (of haar) verblyfreg in jou rustige lewe gee nie.

Geld kan nie ‘lêtte’ koop nie

Ek is soos ’n kind besig om die slapies te tel na ’n naweek-wegbreek en voer kort-kort die een of ander boksprongetjie uit met ’n toot-toooot-vreugdekreet – dit natuurlik alles agter geslote deure. Want ons grootmense lag mos maar net so effens uitbundig as ons opgewonde is oor iets – geen gespringery in die lug of uitroepe voor mekaar nie. Die naweek kuier familie by ons. Hulle het ’n vierjarige liefiekind wat die lewe met oorgawe geniet. Vrydag sit ek voor die spieël – besig, besig om betyds te wees vir werk. Sy val op die bed agter my neer met haar armpies agter haar kop gevou en sê met ’n salige uitdrukking: lêtte, lêtte. Lêtte, vra ek, en onthou toe skielik sy ruil nog soms haar t en k om. Ja, sê sy, hulle was by die kwekery, en sy het perdjie gery – lêtte, lêtte. En motorfietsies gery – lêtte, lêtte. En springmat gespring – lêtte, lêtte. En sy het aan ’n groot tou geswaai en in die nat sand geval – lêtte, lêtte. Bedrywige dag wat sy gehad het en niemand het daarom vrae gevra toe sy reeds vroegaand almal nagsê en kamer se kant toe verdwyn nie, want sy is moeg en gaan slaap. Sy probeer nie om nog ’n uur of vyf uit ’n dag te pers wat reeds verby is nie. ’n Dag wat al  jou  energie  uit jou  getap  het –  en  nie  omdat dit  ’n  lêtte  dag  was  nie,  maar een van die maak-voorsiening-vir-die-toekoms-dae, of werk-om-’n-mooier-huis-te-skep-dae, of werk-om-modieuse-klere-te-koop-dae nie. Lêtte dae lewe jy nie in Nike-tekkies nie, jy lewe dit kaalvoet. Lêtte dae lewe jy nie in praghuise nie, jy lewe dit buite in die son of onder skadubome. Lêtte dae lewe jy nie in ’n rocking chair op die stoep van ’n strandhuis as jy 80 is nie. Jy lewe dit nou – wanneer jy alles neersit, ’n kind in haar oë kyk sodat sy jou met entoesiastiese handgebare vertel van hul besoek vandag aan die brandweer – ’n lêtte dag!

Leer só van opregte stertswaai-liefde

Daar is ’n hoekie in ons tuin waar net mooi niks wil groei nie. En as iets gehards ’n poging aanwend om hul wortels in die barre aarde in te boor, hardloop my geliefde DBV-staffie dit vir my uit. Daai is immers die waghond se uitkykpunt. Toe kreatiwiteit met tuinuitleg uitgedeel is, het ek maar ver agter in die ry gestaan. So, toe die idee vir die uitleg van daai hoekie by my opkom, was ek omtrent trots op myself! Klippe – dit is die perfekte oplossing vir my hoekie. Moet net nie dink klippe is goedkoop nie. Met ’n baie plat beursie, seer arms en lam rug, staan ek terug en bekyk my poging – glad nie sleg nie, dink ek. Terwyl ek pootuit, dog baie tevrede, met ’n lang glas koeldrank sit en ontspan, hoor ek ’n groot lawaai. Ek hardloop buitentoe net om te sien hoe my DBV-staffie volspoed na haar uitkykpunt toe hardloop dat jy net klippe sien trek – die nuut uitgepakte klippe. En ek kan tog nie met haar baklei nie, want sy doen net haar werk! Ek  gaan  sit  by  haar  langs my gedeeltelik verwoeste handewerk en dink terug aan die eerste dag toe ek haar gesien het. Sy was so depressief ná ’n paar maande in ’n hok. Sy het nie eens meer probeer om opgewonde te lyk as iemand nader kom nie – haar hoop het seker net te veel kere al opgevlam as iemand voor haar hok kom staan, net om weer om te draai en haar daar te los. Dis die een, het ek en manlief sommer dadelik geweet. Ons was maar skrikkerig om weer ’n waghond  te  kry  ná  ’n erg mislukte eerste poging om ’n baba-labrador tot ’n kindervriendelike waghond groot te maak. Maar toe ons by die huis kom en in ’n stadium vir die nuwe DBV-hond sê ‘sit’, en sy gaan sit wraggies, het ons albei se monde oopgeval van verbasing . . . en verligting –  die hond luister. Maar wat elke keer net trane in my oë laat skiet, is die waardering wat daar in haar oë is vir selfs net die vinnigste krappie agter die oor, ’n doodgewone bak hondepille en hoe opgewonde sy is as ons by die huis kom ná werk, al slaan daai swaaiende stert vrek seer. As jy wil leer van onvoorwaardelike liefde en opregte waardering, kry vir jou ’n DBV-hond.

Moet nooit ophou vlerksleep

Die uitdrukking vlerk-sleep het eers ’n paar dae gelede werklik vir my betekenis gekry toe ek dit in aksie gesien het – letterlik en figuurlik. Ek  kyk  die  duif so en roep benoud vir manlief dat hy moet kom help, ek dink die duif se vlerk is seer. Nee man, sê manlief, hy sleep vlerk. En nie ver van hom af nie, merk ek toe die wyfie op. Die mannetjie haal sy beste bewegings uit, maar sy steur haar nie regtig aan hom nie. Hy stoei egter voort in die son, dan dié vlerk en dan daai vlerk, tot die stertvere ook pragtig uitgesprei is. Ek voel of ek die wyfie-duif met ’n klip kan gooi dat sy tog net kan sien hoeveel moeite hy doen. Dan sien ek ’n ouerige man en vrou stap – hand aan hand. Die vrou loop bietjie agter hom en dit is amper of hy haar bietjie vorentoe trek. Hulle gaan staan later bietjie om te rus en manlief vra of hulle nie bietjie by ons wil kom sit nie. Nee, sê die man, ons stap maar bietjie en dan rus ons weer bietjie. Terwyl die vrou asemskep, vertel  die  man ons sy vrou het kanker gehad en die chemoterapie het haar maar bietjie verniel. Die stap doen haar egter baie goed,  sy  was nog altyd  lief   vir stap. Hy staan geduldig en wag totdat sy weer  reg  is  en hulle  stap  so  verder. Toe hulle ’n entjie weg is, gaan staan hulle weer,  maar  die  keer  om  te lag. En ek kan nie help om te dink hoe dierbaar dit is nie. “In sick-ness and in health,” ná al die tyd sleep die man steeds nog vlerk. Aanvanklik is vlerksleep maklik in ’n verhouding of huwelik, maar met die jare raak ’n mens mekaar so gewoond en doen jy nie meer altyd moeite met die vlerkslepery nie, of sien jy dit nie meer raak as dit nog wel gebeur nie. Leer sommer daarom die vlerksleep-gewoonte vroeg in jou 20’s aan en bekoor die spesiale persoon in jou lewe daarmee – “till death do us part”.

Gaan maar bietjie bos!

Al is ek ietwat as ’n tomboy gebore, mal oor rugby en diere, beteken dit nie ek is die buitelewe-tipe wat drie weke in die bos kan gaan bly sonder om te bad of in die privaatheid van my eie badkamer op wit porselein te sit nie. So,  toe  manlief  in daai rigting begin praat, het  ek  vierkant vasgeskop. Hoe bekoorlik hy ook al die stilte en die weg van  die  gejaagde stadslewe laat klink het, is al wat ek kon sien, ’n spinnekop in my  slaapsak  en  ’n leeu  wat  my  aan  my hare uit ’n tent wegsleep. Manlief het gesien hy gaan nie hierdie  een  wen  nie,  maar in plaas van ’n sug van verligting, het  ek  selfsugtig  gevoel.  En ek het  begin  onderhandel  en  ’n paar  maande  later  staan   daar ’n woonwa in ons erf. Ons het voel-voel begin, met ’n paar naweke nie te ver weg van die huis nie – vir ingeval die spinnekop-insident hom wel afspeel en ek daarop aandring om dadelik huis toe te gaan. Manlief het nog verder gepaai met  brosjures  oor  pragtige kampeerplekke  langs  die  see   en advertensie-blaadjies oor die oulikste goedjies vir ’n mens se woonwa-kombuis. En ek stem toe in vir ons eerste groot wegbreek – twee weke langs die see in ’n park feitlik op die strand. Ja, ek het een aand ’n paar kampeerders uit hul woonwaens laat loer toe ek al gillende by manlief aangehardloop kom nadat ek ontdek het ’n albino-geitjie hou my nog die hele tyd dop terwyl ek in die ablusiegeriewe-geboutjie gestort het. Ek moes ook self een middag ’n spinnekop wat deur die woonwa se venster hom langs my op die bed tuisgemaak het, doodmaak, omdat ek net te sleg gevoel het om manlief wat rustig langs my gelê en snork het, wakker te maak. En ja, ek het amper die hele park se krag laat afskop omdat ek te veel kragtoestelle by ons staanplek aangeskakel het, maar dit is alles deel van die pret. Want soos ’n vriendin tereg op een van my Facebook-foto’s opgemerk het – jy word ’n regte kampertjie! Ek loer nou selfs, wanneer ek seker is manlief kyk nie,  na  die off-road-woonwaens in die kamp. ’n Mens weet nooit of jy dalk in ’n stadium kan voel jy kan wel vir ’n week of wat sonder jou wit porselein klaarkom nie. Moet daarom nie sommer besluit iets is nie vir jou voordat jy dit nie probeer het nie. Jy mag dalk ’n deel van jouself leer ken waarvan jy nie geweet het nie. Want ek vermoed as hierdie twee  weke  se  kampeer  langs  die see  tot  ’n  einde  kom,  gaan  manlief  my   al  gillende  en  skreeuende  in  die  motor  moet  dwing, sodat  ons  kan  terugkeer  na  die rat race.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar