Vandag is jou verjaardag

Elke jaar as ek jou gevra het wat jy vir jou verjaardag wou hê, en wil doen, het dit iets te make gehad met visvangtoerusting en visvang-uitstappies. Ek het daarom vir `n paar jaar besluit om nie te vra nie… want, het ek gereken, daar moet tog iets beter wees as `n visvang-uitstappie op jou verjaardag, en ek sal dit vir jou wys.

Maar ek het gou geleer, vir jou, is daar nie. Jy was op jou gelukkigste in die natuur, daar waar jy jou PT-short, ou T-shirt en plakkies kan dra en koffie op `n gasstofie kan maak. En kan braai… vir ontbyt, vir middagete, vir aandete. So, jou verjaarsdae saam met my het meesal gepaard gegaan met die een of ander buitelug-uitstappie, en -geskenke… verkieslik `n Kloppers-voucher, sodat jy self jou visvangtoerusting kan gaan aanvul.

Aan die begin van ons huwelik het ek regtig probeer, hard probeer, om hierdie visvang-uitstappies te geniet, maar later het ek besef, ek gaan nooit oor visvang voel soos jy nie, en jou vir `n dag of `n naweek jou uitstappies gegun… sonder om saam te gaan en te maak of ek dit geniet. Behalwe verjaardae… dan het ek my kakie-pet opgesit, foto’s van jou vangste geneem, en tjop na tjop weggeslaan sonder om te vra waar die slaai of groente is.

Maar verlede jaar was moeilik… jy was siek… en ek het nie gedink dit is `n goeie idee om heeldag met jou in die son te gaan sit nie, so, ek het dié een self beplan. Ek het geweet hoe teleurgesteld jy gaan wees, en probeer opmaak met `n Kloppers-voucher, maar my voet dwars gesit by wings en coke by die Spur. Nee, hierdie moet `n spesiale verjaardag wees. Jy het `n moeilike paar maande agter die rug en `n moeilike pad lê nog voor. Ek wil jou bederf met `n meer deftige, stylvolle uiteet. En ek het. En jy het dit regtig geniet!

Vir `n paar uur het ons vergeet van jou kanker en van die pad wat voorlê, jy was jou ou pittige self, met kommentaar oor die klein porsies wat seker nie regtig goed lyk saam met jou groot glas coke nie, en selfs die kelner kon nie help om hier en daar te skater nie.

Dankie daarvoor… want vandag is jou verjaardag, en ek dink onwillekeurig terug aan verlede jaar, en die jare voor dit, en dan huil ek nie, ek lag… ek lag oor jou al jou pittige sê-goed die aand in die “fancy” restaurant. Ek lag oor al die vorige verjaardae en my verleë oomblikke langs die viswaters. En ek lag oor tjops vir ontbyt, tjops vir middagete en tjops vir aandete…

2 thoughts on “Vandag is jou verjaardag

Lewer kommentaar