Die gevreesde dag is hier

Die gevreesde dag is hier… die een jaar herdenking van jou dood. Die dag wat soos `n lang skaduwee na my toe aangekruip het. En ek is bang. Ek voel die oë op my, die opregtes, maar ook die ander… En ek is onseker. Want die kamers van my hart is verdeel tussen uitermatige geluk en liefde, maar ook diepe seer en pyn. En ek weet nie wat my gevoelens daarmee gaan maak nie, want ek het geleer dat die hart `n wil het van sy eie.

Nog maande ná jou dood, het mense na my toe gekom en vir my vertel wat jy vir hulle oor my, oor ons twee saam, vertel het. Elke storietjie het trane en `n glimalg op my gesig gelaat, want dit was net bevestiging dat jy so gelukkig was soos ek. Iets wat egter my hart gebreek het, is toe `n vriendin my vertel dat jy haar een oggend gebel en gesê het daar is niks wat `n man se hart so breek, hom so magteloos laat voel soos wanneer sy vrou hartverskeurend huil oor `n bondeltjie seer in haar hart waaraan hy niks kan doen. Dit het jou gebreek om my so seer te sien.

En daar het ek besef hoe dit jou hart moes breek om my in die dae, die maande, na jou dood te sien. Hoe jy gesien het hoe ek dag na dag net wegkwyn, my wil vir lewe heeltemal verloor. Jý wat een van die grootste ondersteuners, bewonderaars van my liefde en my energie vir die lewe was.

En ek dink dit is hier waar jy begin ”toutjies trek” het daar Bo. Want dit was maande, jare, wat ek vir `n paar hartsdinge gebid het, maar geen antwoord gekry het nie. En hierdie afgelope jaar, word al my diepste hartsgebede beantwoord. So, ek kan nie help om te dink…

Jy moes vir Hom vertel het dat ek regtig `n goeie vrou vir jou was en dat jy dink dat ek vir iemand anders, wie se hart ook so stukkend soos myne was, `n baie goeie vrou sal wees. En dat jy dink ek `n man nodig het wat my met deernis, teerheid en opregtheid sal liefhê.

Jy moes vir Hom vertel het van daai bondeltjie seer in my hart… daai behoefte in `n vrou se hart. Dat jy regtig dink ek `n goeie ma sal wees en Hy asb. vir my `n klein Pikkewyn moes stuur.

Jy moes vir Hom vertel het dat ek nou al lank `n nuwe uitdaging in my werk nodig het, iets waar ek my energie vir die lewe net nog verder kan uitlewe.

En jy moes vir Hom gevra het om gou te maak, maak nie saak wat die wêreld daarvan sal sê nie, want dit breek jou hart om my so stukkend te sien.

Want jy het my geken, my liefgehad. Ek het jou geken, jou liefgehad.

1 thoughts on “Die gevreesde dag is hier

Lewer kommentaar