Die ding van seerkry…

Daar is eintlik maar net twee maniere om Seerkry te hanteer – jy kan vir hom probeer weghardloop of jy kan deur hom werk. Instinktief kies ek eersgenoemde. Ek gryp vir Hoop aan die hand en begin hardloop om van Seerkry af weg te kom. Maar dit maak nie saak hoe vinnig ek hardloop nie, uit die hoek van my oog sien ek Seerkry hou by. Hy bly net naby genoeg om stukkies van Hoop, waaraan ek so desperaat klou, af te breek. Maar ek hardloop vinniger en voer Hoop vet met wonderwerk-stories van die internet, bemoedigende sms’e van familie en vriende en Bybelversies.

Maar Seerkry gee nie op nie en ruk later vir Hoop los. Ek hardloop terug huis toe en slaan die deur in Seerkry se gesig toe. Ek loer kort-kort, maar Seerkry bly voor die deur lê, hy gaan nêrens. Wel, dan bly ek net hier, besluit ek. Maar ek weet diep binne in my, die lewe gaan aan, en een of ander tyd moet ek weer by die deur uitgaan. En voor ek dit kan doen, sal ek deur Seerkry moet werk.

Maar die woorde kom nog nie verby die knop in my keel. So, ek begin my gevoelens op papier sit en stoot dit stukkie vir stukkie onder deur die deur na buite. En ek weet as ek alles uit het, sal Seerkry tevrede wees en wegbeweeg van die deur sodat ek kan uitgaan en die son weer op my gesig voel.

3 thoughts on “Die ding van seerkry…

  1. Dis ‘n baie goeie beskrywing van Seerkry. Maar die mens is in wese tog maar ‘n optimis en hou altyd Hoop se hand vas, of gaan soek Hoop weer. En eendag, dan vind jy uit jy kan weer alleen loop, met Hoop langs jou, maar nie meer jou kruk nie. Want die son skyn weer en jy lag weer, al begin dit met net ‘n glimlag.

Lewer kommentaar