Hoekom slaan Pa my?

As kind ek het omtrent nooit pak gekry nie. Miskien daarom dat ek die een of twee keer wat dit wel gebeur het, soos gister onthou. Dit was `n Sondagmiddag. Ek en my ousus het oor `n inkleurboek gesit en baklei en Pa (en dalk Ma ook, maar  beslis darem nie die hele buurt nie, soos Pa oordryf het) se rus en vrede versteur. Ek kan nie meer presies onthou hoe die bakleiery begin het nie, maar ek onthou wel baie goed dat ek heeltemal onskuldig was. Maar Pa wat nie die hele bakleiery sien ontvou het nie en net op die hoogtepunt afgekom het, het daarom besluit om ons altwee pak te gee.

Ek het op daardie vroeë stadium in my lewe die basiese lewensles onder die knie gehad: as jy soet is en nie die reëls oortree nie, kry jy liefde en word jy beloon. Maar as jy stout is en die reëls oortree, kry jy raas of selfs pak. So eenvoudig soos dit. So, al wat ek moes doen, het ek toe gereken, was om vir Pa te verduidelik dit was nie my skuld nie, dan sal ek nie pak kry nie. Maar dit het nie gewerk nie, ek het steeds pak gekry. En toe ek verbaas vra hoekom, leer ek toe net daar my tweede lewensles: Soms kry jy pak al was jy nie stout nie en jy gaan nie verstaan hoekom nie. Jy gaan net hoor, want ek sê so…

En soos ek ouer geword het, het ek geleer dat Pa my dalk een of twee keer sonder rede pak gegee het terwyl dit nie my skuld was nie nie. Maar die lewe gee jou sommer kort-kort pak sonder dat dit jou skuld was. Ja, jy maak foute en verdien raas hier en daar, maar regtig nie so erg dat`n pak slae nodig is nie. Jy probeer regtig hard om soet te wees en binne die reëls te bly, maar die lewe deel sy houe uit. En dan kom jy by `n punt wat jy regtig voel, asseblief Vader, net nie hierdie keer nie. En jy smeek, onderhandel en maak beloftes…

Maar die houe val en val en val. En jy lê op `n hopie en snik, Vader, hoekom slaan U my? Want jy ken jou Vader en jy probeer regtig glo Hy sal nie sonder rede slaan nie, maar al wat jy nou kan hoor, is… want Ek sê so.

3 thoughts on “Hoekom slaan Pa my?

  1. Die lewe is nie regverdig nie, was nog nooit nie. As kind het ek en my sus altyd saam pak gekry, maak nie saak wie die eitnlik skuldige was nie. My ma het altyd gesê – wat jou nie dood maak nie, maak jou sterker. Sterkte vir jou.

Lewer kommentaar