`n Man met `n plan…

‘Ons timing het ge-suck. My verjaardag kon hierdie jaar nie op `n slegter tyd gekom het nie.’ Ek wil my eers half vererg toe dit lyk of Manlief nie gehoor het wat ek sê nie en net opgewonde met `n ‘dit mag dalk lank vat’ by die huis uit trippel. Maar toe hy kort daarna bel en my laat belowe dat ek nie voor môre op die internet op ons bankstaat mag kyk nie, weet ek dis `n man met `n plan.

Dit vat toe inderdaad lank en toe hy met sy pakkies by die deur instap, word ek balkon toe gejaag tot hy verby is, die gang af. Hy kom sit later by my en sy gesig straal soos `n kind sn. Jy weet dis ek wat môre verjaar en nie jy nie, vra ek speels. Hy moet hom omtrent inhou om nie daar en dan my geskenke vir my te gee nie. Wil jy `n clue hê, vra hy. Ek weet ek moet  hom laat begaan, anders gee hy dalk die hele mandjie patats weg voor môre. Okei, maar net een, sê ek. Hy het meer as een geskenk gekoop. En voor ek kan keer, wys hy my ook die muffins wat hy vir môre se vroeg-ontbyt gekoop het. En ook die pienk bubbelbath vir die bad daarna.

My laatslaper-manlief is douvoordag op. Koffie in die een hand en geskenkpakkies in die ander, stap hy by die kamer in. Vergeet amper om geluk te sê, voor hy die kaartjie aangee. Toe ek die Garfield-kaartjie uit die koevert trek en skaterlag, begin manlief se plan ontvou. Terwyl ek my geskenke oopmaak, gaan tap hy solank die bad, maar sy kop verskyn kort-kort om die kamer se deur om my reaksie te sien op elke geskenk.

Ek sit die botteljie op die kant neer as die skuim dalk te gou opraak, sê hy voor hy die deur agter hom toetrek. Hy weet ek het hierdie alleentyd vanoggend nodig. Ek sak stadig agteroor in die bad, dat die skuim nie oor die bad se kant mors nie. Ds nou vir jou `n bubblebath. Ek maak my oë toe en en gaan dink-dink deur my gevoelens. En toe ek my oë weer oopmaak, kyk ek vas in die botteltjie bubbelbath op die bad se rant – Happy me – staan dit duidelik op die botteltjie. Manlief se plan ontvou verder.

Ek weet net waar ons verjaardagkoek gaan koop, se Manlief toe ons in die motor klim. En hy ry na dieselfde winkeltjie toe waar ons vier jaar gelede koek gekoop het op ons wittebrood. Ons sit en lag met `n mond vol versiersuiker. Manlief se plan begin werk.

Ons ry net na vier, se manlief toe ek my regdraai vir `n middagslapie. Waarheen gaan ons, maar hierdie keer skop hy vas en die eerste leidraad wat ek kry is die bordjie wat wys, Wild Coast Sun, links…. Ons kyk rugby, ons kuier, ons wine and dine en Manlief se pittige sê-goed laat my kort-kort uitbars van die lag.

Sy plan het geslaag – vandag het hy my laat vergeet van die seer en genoeg lag in my hart gesit om nog moontlike trane vir `n ruk te kan trotseer. En ek gaan sit op sy skoot op die balkon en kyk na die maan oor die see. En ek dink hardop: Happy me.

4 thoughts on “`n Man met `n plan…

Lewer kommentaar